LITRA Lecture: Chris van der Merwe

LITRA Lecture: Chris van der Merwe


Event date: Monday 18 October 2010, 5.30 p.m. – 6.30 p.m.
Location: Faculty of Arts and Philosophy, Blandijnberg 2, Faculty Room 

“Ou wyn in nuwe leersakke: Die herinterpretasie van religieuse temas in tye van trauma” given by Professor Chris van der Merwe (University of Cape Town) [in Afrikaans]

“In die hersiene druk van The Post-Colonial Studies Reader argumenteer die redakteurs, Bill Ashcroft, Gareth Griffiths en Helen Tiffin, dat “analyses of the sacred have been one of the most neglected, and maybe one of the most rapidly expanding areas of post-colonial study”. In die Suid-Afrikaanse literatuur is daar belangrike voorbeelde van die herinterpretasie van religieuse temas in tye van trauma. Enkele hiervan sal bespreek word:

  1. In André P Brink se roman Kennis van die aand (1973) vorm Jesus se kruisiging die matriks van die verhaal van ‘n verbode liefde. Daarmee lewer die skrywer verdoemende kritiek op die apartheidswette, ondermyn hy die konvensionele godsdiens-opvattinge van sy tyd en herdink hy die religieuse betekenis van die erotiese liefde.
  2. Etienne van Heerden se roman Dertig nagte in Amsterdam (2008) handel oor die soeke na innerlike vryheid ná die verkryging van politieke vryheid in Suid-Afrika. Die twee hoofkarakters moet kies tussen ‘n finale lojaliteit aan Europa of aan Afrika; ook die verwerking van die sondebok-mite speel ‘n belangrike rol in hul soek na heelwording.
  3. Twee Engelse tekste uit die Moslem-kultuur word kortliks bespreek: Sachs Street(2001) van Rayda Jacobs en Our Generation (2003) van Zubeida Jaffer. Laasgenoemde toon die krag wat uit godsdiens geput word in ‘n tyd van krisis, selfs by ‘n kritiese Moslem-vrou; eersgenoemde handel oor die problematiese huwelik van ‘n Moslem-vrou en ‘n fundamentalistiese Christen en bring die kwessie van godsdiens-dialoog ter sprake.”

Chris van der Merwe is ‘n afgetrede hoogleraar van die Universiteit van Kaapstad; hy was ook besoekende dosent by verskillende universiteite in Wes- en Sentraal-Europa en in die Verenigde State. Hy is die skrywer van verskeie boeke en artikels oor die literatuur; sy huidige navorsing fokus op die verwerking van trauma in literêre narratiewe, en hy is die medeskrywer, saam met Pumla Gobodo-Madikizela, van Narrating our Healing – Perspectives on Working through Trauma (2007). In 1994 is hy aangewys as Suid-Afrikaanse Boekjoernalis van die Jaar, en vir sy bydrae tot die Afrikaanse literatuurkritiek het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2009 die Gustav Preller-prys aan hom toegeken.